Pragtige storie uit Burgersdorp

Ons reis na Burgersdorp vir sport. Dis koud, -9 se koud. Die veld is hard en die wind is skraal. Eugene Marais het so gedig geskryf, maar ek kan nie die woorde onthou nie, want dis te koud om te dink. Die 1ste netbalspan verloor 20-21, en die meisies se arms en bene is pienk en hulle neusies loop van die koue.
Die 1ste hokkiespan speel met hulle sweetpakke aan, en wen 3-0. Die 1ste rugbyspan se wedstryd begin, en dit gaan sleg vir die besoekers. Burgersdorp se agtsteman is telkens aan die voorpunt van die vyand se aanslag. Die knaap is ‘n stoomroller, ‘n lokomotief, ‘n buffel, die reinkarnasie van Os (toe Os kwaad was vir George Gregan, nie toe Os met aartappels geboer het nie). Mammaplotter se blue-eyed boytjie en die stoomroller is telkens heel onder in die hopie lywe en tokse. Mammaplotter se oogappeltjie en die lokomotief tref mekaar keer op keer met ‘n geluid wat klink soos die dag toe die prefek van die blinde skool in die lee swembad geduik het. Mammaplotter se nerwes hang aan ‘n flentertjie, en sy wil weet waar sy die spelers se geboortesertifikate kan besigtig. Pappaplotter loer benoud of die mediese fonds se kaart saam gereis het, en hy google of Burgersdorp ‘n privaat hospitaal het.

Die wedstryd eindig, en dit is ‘n groot oorwinning in die guns van die buffel en sy spanmaats. Na die wedstryd sien ek hoe die stoomroller die oogappeltjie uitsoek in die geroesmoes. As dit ‘n ander sport was sou hy seker die arme boytjie getart het of gekoggel het. Maar dis rugby. Twee tieners wat mekaar nog nooit ontmoet het nie, wat ‘n uur lank probeer het om mekaar fisiese leed te besorg, skud blad. Die oorwinnaar vertel vir die verloorder dat hy nie moet sleg voel nie, dat hy ‘n goeie game gehad het en tot die einde hard baklei het. ‘n Sot van die tuisskool word nader geroep om ‘n foto te neem met die oorwinnaar se smartphone om die vriendskap en respek vas te vang. Nommers word uitgeruil en die foto arriveer later die aand per Whatsapp op Komani (voorheen Queenstown) se koue plotte.

O koud is die windjie
en skraal.
En blink in die dof-lig
en kaal,
so wyd as die Heer se genade,
le die velde in sterlig en skade
En hoog in die rande,
versprei in die brande,
is die grassaad aan roere
soos winkende hande.

O treurig die wysie
op die ooswind se maat,
soos die lied van ‘n meisie
in haar liefde verlaat.
In elk’ grashalm se vou
blink ‘n druppel van dou,
en vinnig verbleek dit
tot ryp in die kou.

Winternag
Eugene Marais

 — with Samuel Fryer.

- Advertisement -