Ek is eintlik ‘n Kalahari-kind daar van Upington se wêreld. Ek het in 1986 Griekwaland-wes kleure in karate verwerf. In 1989 het ek Matriek geskryf en in 1990 is ek na Pantserskool vir my Diensplig.
Op 13 Oktober van daardie jaar, terwyl ons op pas was, was ek en nog 3 vriende in ‘n siviele motorongeluk. Morné is opslag dood, Victor en Robert het net skok opgedoen en ek het my brein so ernstig beseer dat ek vir 2 en ‘n half maande in ñ koma in 1 Millitêre Hospitaal  gelê het.
8 maande se rehabillitasie het gevolg waartydens ek van vooraf moes leer loop, praat en skryf. Ek praat nou nie eens van die warboel van psigiese probleme wat traumatiese breinbeserings meebring nie.
Hulle het eers gesê dat ek nooit weer uit 1 Mil sal stap nie. 11 maande later het ek met ‘n kierie en ‘n linkerarm wat optrek, daar uit gestap.
My sussie, Sarette, en haar kêrel, Anton, was my enigste vriende. 3 jaar na my ongeluk, op 22 November 1993, is Anton en Sarette dood in nog ‘n motorongeluk. Daai dag toe hulle kiste in die grond in sak, kon ek sweer ek is vir die tweede keer dood. My pa het verwese gestaan en toekyk, my ma het die kis probeer vashou.
Ek het vir 10 jaar probeer om ‘n vrou te kry, maar na 2 kinders, ‘n seun in 2001 en nog een in 2004, het ons huweliksbootjie in 2010 gesink.
In 2016 het my eerste boek, “Gesloopte Lugkastele” verskyn. In 2017 ontmoet ek my huidige vrou hier op George en ons is gelukkige Georgiete.
Hierdie klipperige pad stap ek al amper 29 jaar, maar met die krag en wysheid van ons Here Jesus hou ek nog elke dag aan. Ek weet nie elke dag wat my doel in hierdie lewe is nie, maar ek weet ek sal dit nooit uitvind as ek nou gaan boedel oorgee nie.

Johan Smith

- Advertisement -