Voëlklip se houtkruis

Voëlklip (Heroldsbaai) het om verkeerde redes op byna sensasionele wyse bekendheid verwerf.  Vir my bied die natuurskoon van grasvlaktes, unieke fynbos, kranse wat  diep onder in deinings verdwyn en ‘n malende see van wit-bruin skuimbolle, veroorsaak deur reusebranders wat jou oog vasgevang hou ‘n onblusbare  wonder van hoop.

Die houtkruis van hoop wat reeds om en by 1953 opgerig is en waar daar daagliks ‘n ramshoring geblaas word, is simbolies van hierdie hoop…’n abstrakte woord, maar vir iemand soos Dawie le Roux van Die Vleie, Hoekwil,  konkreet as hy sê God as bron van hoop bemagtig hom om in uitdagende tye positief en hoopvol te lewe.  As ons in negatiewe tye vir mekaar bid, sal God ons seën en God sal alles ten goede laat meewerk.  Vusi Selani, verbonde aan The Table Coffee & Books, sê : ”Ukuba nekamva, kundinika ithemba.”  (To have a future, it  gives me hope), en “ It doesn’t matter how dark it might seem to be, eventually there’s light at the end of the tunnel…and for me the Light is God.”

Voëlklip én Kleinvoëlklip se name is ontleen aan die duidelik sigbare wit mis van  voëls wat veral gedurende die sardienloop hul merk laat.  Kyk die kaart wat veral die onderskeie visvangplekke aandui.

Die passie en leierskap van Ken Field (voorsitter Heroldsbaai Belastingbetalersvereniging) met die goedgunstige samewerking van ander betrokkenes, het gesorg dat  die tuinroete-juweel, Voëlklip, toeganklik bly vir hengelaars, drawwers, stappers en sommer almal wat hulle in die asemrowende natuurtonele wil verlustig.   Die staproete vanaf dieHeroldsbaai parkeerarea tot bo by Voëlklip en dan padlangs sover as wat jy wil en terug ,bied ‘n unieke geleentheid om te oefen en die omgewing te voet te verken.  Fynbosfanatici  kan ook ‘n studie maak van unieke fynbosspesies wat blykbaar net hier voorkom.  Daar is ook aan senior burgers gedink toe besluit is om nie die pad te sluit nie.  Nou kan enigeen tot by die bekende houtkruis ry en heelpad die natuur bewonder. Die oorspronklike rede vir die bou van die pad in 1953 naamlik om die gebied vir hengelaars toeganklik te maak, is steeds van toepassing.  Field maak melding  van ‘n vergadering om die toekoms van Voëlklip te bepaal  waarby  die eienaar van die grond aan weerskante van die 14 m breë padserwituut en die burgemeester van George teenwoordig was.  Hy besing die lof van beide hierdie positiewe betrokkenes.

Die huidige eienaar het as natuurbewaarder  planne om Voëlklip as dorpsgebied te ontwikkel , gestuit en op sy aandrang het Ken Field die leiding geneem ten opsigte van die verwydering van al die gedenktekens.  Die sensitiewe wyse waarop hierdie saak deur goeie kommunikasie gehanteer is, moet gekomlimenteer word.  Ook moet ek melding maak van Dirk Barkhuysen van Waste Giant wat betrokke was “vir ‘n goeie saak” met die breek en wegry van sementblokke en ander materiaal wat die natuur ontsier het.

Volgens Field het die Provinsie verantwoordelikheid vir die instandhouding van die pad aanvaar en behoort die pad binne die afsienbare tyd heelwat beter daar uit te sien.  Vir Field is die veiligheid van die gebied  ‘n hoë prioriteit en het hy melding gemaak van donasies wat reeds ontvang is  vir die verdere beveiliging van die gebied.

Field se visie is dat Voëlklip ‘n nog groter toeristeaantreklikheid sal word en dat baie meer mense die genot van Voëlklip sal  kan beleef.  Hy noem van ‘n idee om by Graslaagte ‘n mariene reservaat tot stand te bring.

Hiermee ‘n beroep op George Munisipaliteit, die Tuinroete Distriksmunisipaliteit, die privaatsektor en individue om behulpsaam te wees met die ontwikkeling van Voëlklip as ‘n toeristeaantreklikheid.  Toe ek by Hermanus gestaan het, het ek onwillekeurig aan Voëlklip gedink.  Hoekom kan hierdie pragtige plek nie ook so lyk nie?  Natuurlik sonder die geroesemoes van kommersialisering.

Net met  die vreugde en Vrede wat nog ‘n grootse natuurwonder kan bring.

André Groenewald.
Facebook

- Advertisement -