Geskryf uit die oogpunt van ‘n moeder hart.

In die stilte van hierdie warm laat middag hoor ek die gedreun van ‘n swerm motorfietse wat teen die Outeniqua berg weergalm, skoenlappers vind hulle eie weg in my maag en woorde saggies glip uit my mond “hoop is hier”. Die kinders hardloop af met die trappe en skree “hulle is hier, hulle is hier”. Hulle opgewondenheid bring ‘n glimlag op my gesig, en saggies sê ek vir myself “Skep asem vrou”.

Die uitstap om hulle te groet was die langste wat hierdie “driveway” al ooit gevoel het, en daar staan hierdie vrou waar ek sommer haar moeder hart dadelik herken. In daardie groet drukkie kon ek nie laat gaan nie, hoe kon my kinderlike hart in daardie oomblik soveel vrede vind in hierdie vreemde tannie. Ja, die Syndicate Bikers Club is hier, die rye van motorfietse wat staan, hulle aankoms in hierdie tyd van nood het hulle die krag van hulle teenwoordigheid aangekondig. Die liefde en warmte van elkeen en mamma tannie se sagte woorde “ek verstaan, dit is okay, ek verstaan”. Hoe kon trane nie anders as om my oӫ te laat glip nie?

En soos die president van die club nader stap kon ek sy gesag en autoriteit in hom herken, hy dra die amp met soveel deernis en nederigheid, sy ja is sy ja en sy nee is sy nee. Hy herinner my aan ‘n Alfa leier van wolwe.

Die kar trek nader en almal dra ‘n hulpende hand by om sakke goedtjies uit die kar te laai, hier word ek in hulle groepie nader getrek vir ‘n kiki,”smile”. Hier staan ek my gedagtes deurmekaar deur die emosies “beweeg vrou almal wag vir jou” se ek saggies vir myself.

Op my balkon sluit ons af met ‘n gebed van dankbaarheid, en mamma tannie en Alfa leier stap die huis binne met ‘n paar troos woorde “ons is daar vir julle”. Met groet tyd stap ons almal weer na buite en nog ‘n kiki word geneem by die motorfietse, natuurlik was die kinders se glimlagte hemel breed, hulle staan saam met “bikers”.

Toe ons in die huis gaan gee ek vir die kinders die sakke met klere en se hulle moet dit uit gooi op my bed, die opgewondenheid, die kinderlaggies, die oop skeur van die sakke het my laat dink aan kerstyd, met die gedagte “hulle het iets waarlik gevind wat vreugde bring”. Nie lank nie kom elke kind uit verskillende vertrekke uit en model hulle nuwe klere. “Baie spogerig” was my woorde aan hulle en ek kan sien hulle kinder hartjies is gevul met die verrassing, en hoor hulle stemmetjies aan hulle self “dit is myne”.

Ons pak die kos sakke uit en bêre elke nuwe item op sy plekkie, saggies is my woorde aan myself “dankie vir hierdie stil laat nag gebede antwoord”. Daar is voorsiening, daar is hoop daar is kossies in my leӫ koskas en yskas asof hulle maagies ook gevul raak, ryk in kleur en geur. Is dit hoe ‘n vol yskas lyk vra ek myself?

Na alles en ons aandete sit ek buite en huil soos ‘n kind, wens my moeder was hier om te troos, die verligting wat hierdie mense met hulle motorfietse aankondiging gebring het, die vreugde in my kinders, die grom maagies wat gestil is, die bietjie langer stort as gewoonlik om hulle self te bederf met die bederfies, asof selfwaardigheid ook opgedaag het.

Hoe kan my woorde van dankie ooit genoeg wees?

- Advertisement -