Ek staan vanaand op my balkon my plekkie waar ek afsluit en gaan dwaal in ou vergete skatte. Die winter koue is nie vanaand in die lug nie, maar so asof daar ‘n berg windtjie oor die berg wil bekruip. Dit lyk of die maan die son probeer naboots met sy vaal skaduwees tussen die huise en die sterre probeer hulle helder glans teen die maan afspeel, en nag voeltjies sing hulle aanbiddings lied in die stille nag. Daar is hierdie soet snaakse reuk ook die laaste tyd oor George ‘n ou bekende reuk maar kan dit nie plaas nie. Ja, hierdie is my George, my tuiste.

Ek kan maklik verlore raak in ‘n spokies wereld, as kind onthou ek as oupa begin storie vertel het was ek eerste voor hom, ek het my op my alie geplant en aandagtig geluister. Ons was 3 dogters in die huis en my moeder is ook ‘n sprokies persoon, sy het ons die snaakste gediggies geleer van ‘n speedcop om die hoek met sy grote boep, tot okie pokie vette vark. Ons kar was nooit stil nie, musiek het gespeel en ons drie dogters het gesing, soos ons ouer geword het, het ons later in stemme gesing en my ma wat ‘n koor leidster was het dit vreeslik geniet. Ons het ons eie liedjies gemaak. Ek het geleer droom het nie perke nie en woorde is jou speel terein, natuurlik toe ek ouer word moes ek mooi begin onderskei het tussen sprokie en realiteit, maar tot vandag toe is my droom sprokies wereld my toevlug.

So waar pas George vandag in my spokies wereld? Wel ek hou van uitstappies en verdwaal in natuur. Hoe sien ek George? Wel hierdie pragtige Outeniqua berg van ons is vir my ‘n muur. ‘n Muur wat die wêreld daar buite skei van hierdie stukkie hemel, stukkie aarde. As ek op my balkon staan en na die berg staar kan ek net die uitsig oor George verbeel en weet my verbeelding is glad nie so ryk as die werklikheid nie. Ah dit sal waarlik iets wees om te sien!

As die wind op steek is my reuk sintuie altyd op aandag, daardie vynbos reuk, as ek gewoonlik deur Wildernes ry is my neus altyd by die venster uit want daar ruik ‘n mens dit die beste. Daardie soet kruie reuk van ‘n natuur bos. Ek wonder soms of die vynbos enige goeie waarde bevat vir voedings waarde of vir skoonheid?

Dan die diep blou see. As ek die see sien praat ek altyd met die see, ja ek praat met die see. “Hallo ou grote, watter geheime dra jy vandag?”. Ek kyk na die see se kleur as die see daardie diep donker blou is, lyk die see gelukkig, as die see so grys lyk dan lyk die see hartseer en as die see bruin lyk dan lyk die see siek. Ek weet nie of dit net altyd ek is nie, maar ek kyk altyd of ek enige diere in die see kan sien? En soms net soms dan skiet daar ‘n kattekwaad in my op waar ek iets wil uit skree maar moet my in toom hou “Daar is ‘n haai.. waar waar waar? Ek weet nie, iewers in die see”. En dan daardie dae wat ek net langs die water wil sit, in die golwe wil staar en verlore raak in my eie gedagtes.

Die laaste paar weke is ek ook bevoorreg met hierdie 2 groot arende, ek hoor hulle elke dag skree, soms vlieg hulle hier voor my verby en ander dae moet ek diep in die hemel in kyk om hulle te sien. Hulle dans in die lig en speel, asof die hemel aan hulle behoort. Daar is ook die laaste tyd met tye wat ‘n swerm swart voels in my boom kom sit en baljaar, mekaar rondjaag en uitlok. Dit is net vir ‘n paar minute dan vlieg hulle weer weg. En dan is daar ‘n brawe voeltjie in die dorp. Ek het haar die naam gedoop “Ester”. Sy het ‘n nes gemaak in ‘n robort se rooi lig op die hoek van Knysna en Wellington straat. Haar nessie is by die video winkel se kant. So elke oggend as ons by die rooi lig stop wat haar nessie toe maak groet ek haar, en wonder of haar kleintjies daarvan gaan hou om elke dag ‘n rooi lig in hulle nessie te he, dit moet seker soos ‘n diso wees? Maar hoe braaf is sy nie? Om op so ‘n gevaarlike plekkie nes te maak sodat die rooi lig haar eiertjies en dan babatjies kan warm hou deur die winter.

Nou kom ons by George se reën. Die “Cold And Wet”. Ek hou van swaar weer, hoe harder die donderweer en hoe groter die storm hoe lekkerder slaap ek. Dit is asof die hemel net sy sluise oopmaak en net “let go”. Dit is iets wat George nie eintlik het nie, ons het winde en veetjie reen. Saggies, soos ‘n hemelse melody wat uit gegiet word uit ‘n harp, wat saggies en liggies val. Die fluister reen wat ons winter gras altyd met groen besprinkel.

Dan die George mense. Vriendelikheid is altyd die voorspring. ‘n Paar maande terug was ek daarbo in Noordwes vir amper ‘n week en ek het besef hoe knorrig almal lyk, veral die pampoen boere, ek het sommer net terug huis te verlang om ‘n vrolike gesiggie te sien, ‘n vrolike groet en die woordtjies “hoe gaan dit?”. Meeste mense ken mekaar en almal weet altyd wat aangaan waar. Ons is regtig ‘n gemeenskappie naby mekaar wat nog hart het en omgee wat mekaar ondersteun en mekaar bemoedig.

Dankie dat ek vanaand sommer saam met julle kon verlore geraak het in die George Nostalgie, ons plekkie van liefde, vrede en eenheid, wat versier is met skeppings prag, gevul met rykheid aan mense.

Lodene Van Blerk

- Advertisement -