In die jare toe netjiese here nog hoede gedra het, was dit gebruiklik om, wanneer jy by ‘n voetoorgang in Parys ‘n taxi sien, jou hoed vriendelik te lig vir die taxibestuurder. Dit was, inderdaad, tot nog ‘n paar dekades gelede ‘n tradisie in Parys om ‘n taxibestuurder hoflik te groet, want eenmaal, lank gelede, was dit hulle wat Frankryk gered het met ‘n plan wat ‘n impak op die totale wêreldgeskiedenis sou maak.

Die eerste dekade van die vorige eeu was die opstaanjare van die motorbedryf. Die firma van Marcel Renault in Billancourt produseer betroubare klein motortjies wat wêreldwyd uitgevoer word. Na sy dood in 1903 neem sy seun, Louis, die firma oor en die eerste model wat van die produksielyn af rol is die Renault Tipe AG-1 – ‘n ligte motortjie met grasieuse lyne, beskikbaar in vierdeur sedan of tweedeur toekap met ‘n oopkapruimte vir ‘n chauffeur. Dit het handratte en ‘n tweesilinder-enjin wat 12 perdekrag lewer. Teen die einde van 1913 is daar sowat 3000 van hierdie Renaultjies wat behoort aan die G7-taximaatskappy, wat daagliks kruis en dwars deur Parys snork met passasiers.

In Parys gaan die lewe sy normale gang vol plesier en lighartigheid, maar op die horison steek die onweerswolke lankal op. Europa sit op ‘n kruitvat. In ‘n toenemend veranderende wêreld probeer die groot state verbete om hulle eie belange te beskerm. Brittanje is ingestel op wêreldoorheersing en bou aan hulle “Empire on which the sun never sets”, Frankryk se republiek is aan die tande kry, in Oostenryk het keiser Franz Joseph al sy dae om die multikulturele ryk van onderhorige state aan mekaar te hou, Rusland se sagmoedige tsaar Nicholas, deeglik onder die pantoffelregering van sy baaspelerige vrou, probeer verbete vasklou aan sy outokratiese mag en in Duitsland sit en maak keiser Wilhelm almal die hoenders in met sy plan om Duitsland die magtigste staat ter wêreld te maak. Die klomp is in twee kampe verdeel deur ‘n ingewikkelde diplomatiese stelsel van alliansies. Frankryk, Brittanje en Rusland sit op een bank, terwyl die twee Duitse state weer dik vriende is en die struikelende Turkse Ryk van die Sultans aan die hand met hulle saamsleep. Die klomp is kort-kort lus vir baklei.

Die vonk beland in die kruitvat toe ‘n klompie Serwiese nasionaliste op 28 Junie 1914 die Oostenrykse kroonprins, aartshertog Franz Ferdinand en sy vrou, in Sarajewo doodskiet. Oostenryk verklaar ‘n maand later oorlog teen Serwië. Nou spring Rusland in om sy Slawies-Ortodokse vriende in Serwië te beskerm. Keiser Wilhelm vlieg op om Rusland aan te vat en daarom staan Brittanje en Frankryk nader om Duitsland aan te val. Binne ‘n oogwink is die hele Europa besig om oorlog te maak.

Die state is voorbereid. Frankryk het sy linies opgestel aan die Duitse grens by Elsas en Lotharinge. Hulle gaan die Duitsers daar probeer keer, maar wat hulle nie weet nie is dat keiser Wilhelm lankal ‘n ander plan gemaak het – die Schlieffen-plan. Hiervolgens gaan die Duitse leër kortpad kies deur België, Frankryk oorval en neutraliseer en dan ooswaarts draai om die Russe te keer, want generaal die grootvors Nicholas Nicolaievitsj Romanov is op pad met 3 miljoen bloeddorstige Russe!

Niemand verwag hierdie plan nie. België se bloedjong boekwurmkoning, Albert II, val met sy gesin en sy paar soldate terug en skop vas in ‘n hoekie van sy Koninkryk skaars groter as ‘n Bosveldplaas – en daar hou hy vir vier volle jare vas met ‘n verbete heldhaftigheid wat g’n mens van hom verwag het nie. Hy kan egter nie die Duitsers keer nie en teen September 1914 is hulle aan die Marne op die grens tussen Frankryk en België, by Nanteuil-le-Haudoin. Daar is 50 km oor voordat hulle Parys beset.

Die Franse generaal Gallieni met sy ouderwetse knypbrilletjie en woeste snor lê wakker. Hy het die troepe om die Duitsers terug te hou totdat die Engelse opdaag, maar die meeste treine met artillerie en troepe is na Elsas gestuur en nou kan hulle nie terugkom nie, want die Duitsers beheer die spoorlyne. Hoe gaan hy maak om die Franse soldate aan die front te kry?

Volgens oorlewering is dit madame Gallieni wat die plan kry: Kommandeer die taxibestuurders van Parys op! Op die oggend van 6 September 1914 meld 600 van die klein Renaultjies by Les Invalides aan. Daardie aand vertrek hulle in twee konvooie. Die eerste konvooi van 350 Renaultjies is swaar gelaai met vyf soldate elk – vier agterin en een langs die bestuurder. Hulle wapens en kombersrolle is op die treeplanke vasgeknoop en hier en daar klim selfs soldate bo-op die motortjies se kappe! Die opdrag is duidelik: Die voorligte mag nie aangesteek word nie, slegs die een rooi agterliggie. Elke bestuurder moet die rooi liggie voor hom volg. Om 22:00 vertrek die eerste konvooi en om 23:30 val die volgende konvooi van 250 taxis in die pad.

Langs die rowwe paadjies tussen Franse boereplasies deur stamp en hobbel en snork die dapper klein Renaultjies met hulle swaar vragte deur die nag en kom teen die vroeë oggendure by hulle bestemming aan. Die volgende aand word die hele proses herhaal en teen die oggend van die agste September is daar 6000 Franse troepe van die 62e Divisie gereed om die Duitse leer aan te vat by die Eerste Slag van die Marne. Die 160 000 troepe van die sesde leër is teen ‘n stink spoed uit Elsas op pad.

Die storie hou nie daar op nie. Die G7-taximaatskappy se opdrag aan sy bestuurders was duidelik: Julle skakel julle meters aan! Die Franse regering ontvang ‘n stywe rekening van f70,012-00 (frank) vir die vervoerkoste – wat hulle sonder enige klagtes betaal!

Die verhaal van die taxibestuurders van Parys en hulle geharde klein Renaultjies het ‘n ongelooflike invloed op die moraal van die Franse volk en die Franse leër. Die Vervoer van die Franse leër met die “Marne-taxis” verseker dat die Duitse oorlogspoging in België gestuit word, waar hulle vasval in die loopgrawe van Vlaandere en vir vier volle jare moet veg teen Britse, Franse, Kanadese, Australiese en Suid-Afrikaanse troepe, en terselfdertyd aan die oosfront die Russe moet probeer keer. Dit word ‘n skrikwekkende slagting waar daar party dae tot 300 000 soldate sneuwel ter wille van 800 meter niemandsland.

As ‘n mens filosofies daaroor wil dink kan jy seker wonder hoe anders die wêreld sou lyk…as dit nie vir die 600 Renaultjies van Parys was nie.

Artikel geplaas in Ultimate Drive met toestemming van die skrywer: Daniel Lötter

- Advertisement -