Storie deur Chris De Koker

Nou gaan ek ver terug in ons kinderjare, en die memories kom en gaan so. Soms vaagweg, want ek was nog aan die kleinkant daardie tyd.
Dis daar op die klein Karoo dorp Leeu Gamka. Ons het so reg agter die spoorweg stasie, net oorkant die straat gebly. Stasiestraat nommer 2. Of iets in daardie lyn. Ek onthou ons telefoon nommer was 14. So dit IS n groot dorp daardie. So neffens ons, ook oorkant die straat, was die poskantoor waar jare daarna Suster haar werks loopban begin het. Nommer asseblief? Sien jy! Maar, terug na die hede. Daardie tyd toe ons nog almal klein en op skool was.

Nou so agter ons huis, was ook die tennis bane. Ja, Leeu Gamka moes op n tyd n tennis klub gehad het. Want in my tyd daar was die bane soos meeste munisipale of goewerment fasiliteite deesdae is. Geen aksie meer daar op die bane. Net verwaarloosde hoog draad om die bal in te hou. n Paal hier en n paal daar om die afwesige net in plek te hou. Ek kan nie onthou of dit n grond- of teerbaan was nie. Maar die was ook maar verwaarloos. Daar was 2 bane so langs mekaar. Die een naaste aan ons het ook die destydse baan-instandhoudings roller gehad. So om die baan plat en kompak te hou. So ek vermoed dan was dit n grond baan. Nietemin, na skool en middagete gaan speel ons kinders soms daar so op die gewese sport fasiliteit. Seker maar gebou en onderhou deur die spoorwee op n stadium.

Nou die swaar roller was enorm. Dit was basies net die uiter ring gedeelte van n groot padroller. Wat beteken jy kan binne in die gedoente klim en self so n bietjie rol as ons genoeg kinders binne is om die nodige gewig te verskaf. Ons geliefde waaghalsige Oom het soos gewoonlik verveeld geraak met die inwendige pogings wat daar aangewend word om die gedoente aan die rol te kry. Nee wat, hy gaan sommer bo-op die roller en dan so saam met die ding rol tot by die grond, en dan afspring. n Gevaarlike speletjie inderdaad. Soos die Oom toe ook waaragtig agtergekom het. So met sy descent grond toe, werk van sy calculations nie lekker uit nie, en daar rol daai roller bo-oor die Oom se groottoon. Moerse storie inderdaad. Dis onmiddelik dokter toe en hy het vir maande met daardie toon gesukkel. En so om alles te kroon, trap sy klas juffrou ook nog op juis daardie toon wat nog in doeke en pleisters toegedraai is.
Om terug te kom daar na die “tennis klub”, daar was wel so n soort van klubhuis. Nie veel groter as jou groterige badkamer deesdae nie. So met sitplek vir drie, en n deur na die soort van kantoor of wat ookal. So kom ons een middag en kry n hawelose drifter juis in daardie kantoortjie. Hy is nog doof en kannie praat ook nie. My ou moedertjie was n goeie mens en het gehelp waar sy kon. Die arme man het koffie, kos en nog brood ook gekry vir incase hy so op sy pad weer honger raak. Hy moes baie arm wees want alhoewel die hotel van oom Niel daar was, het die doofstom man hom daar in die “kantoortjie” tuisgemaak vir n wyle. Ek is seker my ma kon dalk nog n paar sente ook vir hom gee. Die arme man het net n sak of twee by hom. Dit is ook al wat daar in sy tydelike heenkome saam met hom is.
Later die middag loop ek weer so in daardie rigting. Die investigative kant van my wil meer uitvind van die rakker. Meneer is tuis en flussies oppad. Seker na die kooperasie toe om iets te koop. “Kyk tog dat niemand in my sakke krap of vat nie” Se die doofstom man toe net daar vir my. n Wonderwerk! Dink ek so by my naief self. Iets is nie pluis nie en ek het toe maar die “wonderwerk” aan my ou moedertjie gaan rapporteer. Wat toe met die rakker gebeur het, weet ek nie. Ek dink nie hy het nog n dag daar spandeer nie.

Wys jou. Sit in die huis heeldag, en die lewe gaan jou verby. Dit is daar buite wat herrineringe plaasvind en lewens gevorm word. Al is dit met n seer, gekweste groot toon. Wees trots Oom. Ons lewens is vol.

- Advertisement -