Die Oom ry met Jan Tuisbly se karretjie.. deur Chris De Koker

Met die kwaai reen, vakansie en warm weer wat ons deesdae ervaar, was ek nou regtig eers verlede jaar weer op die oom se spoor. Ek ry toe vandag weer die berg uit na die padstal. Ek het so n voeltjie hoor fluit dat dit nie goed met die Oom gaan nie. Hy is maar selde op sy pos daar by die Stal.

So met die inkom sien ek die Bantampie staan weer so daar agter en gatwys. So asof hy sku is vir die mens wat die stal besoek. Ek hoor so met die instap stemme en dink toe vandag het ek die jackpot geslaan. Maar helaas, dis Frikkie se jongste dogter wat met die Anti gesels. Sy help nou uit so met die Oom se afwesigheid jy weet. Nee wat. Jy mis hom alweer. Se die Anti. Hy le maar deesdae meeste van die tyd daar in die skuur. So saam met sy honde. Man, sewe Duitse Herdershonde se ek jou! en n kat..of twee soos ek verstaan.
Maar nou wie is nou by die Oom? Vra ek en die Anti se ook vinnig dat daar niemand by hom is nie. Maar, hys is soos n mallemeule. Dan op, en ander dag af. Maar gesond is ons Oompie nie.

Frikkie kom soos gewoonlik toe ook daar aan vir sy daaglikse koffie, en om so darem op te check of die dames darem in orde is. Weereens skud hy ook net sy kop toe ons so van die Oom se welstand praat. Die oorweldigende hitte daar op die plaas kan nie goed vir die Oom, en/of sy diere wees nie. Met sy nuwe medikasie gaan dit glo nog moeiliker wees. Die Anti se sy het hoeveel keer vir hom gese om maar by sy huis op die dorp kom bly. So vir gerief darem. En naby aan alles wat nodig is. Maar nee! Hardekop ken ek hom al van toeka se dae. Jy kan hom niks vertel nie. Laat my dink aan die dag, so net na sy moeilike dae begin het. Ek en hy vat toe so n roadtrip daar na knysna se kant toe. Na so n koffie daar by Timberlakes, loop ons terug na ons voertuig. En daar staan so n nie mooi swart motorfiets-gedoente. Vat daar n foto van my saam met die ding. Se-vra hy vir my. Ek wil dit vir my kinders wys. En ek wil sommer vir my ook eendag een koop. Se die Oom so grappig. Foto toe geneem en nooit kon dink dat hy waaragtig vir hom so n blink BMW gaan koop so n paar jaar daarna. Ek dink die staan nou in die skuur op die plaas. Dit was ook darem na hy die kleiner fiets gekoop het waarmee ek en hy so ge-bokspring het daar op Glentana. Ewenwel, die Oom se gesondheid is maar nie goed nie.

Sterk staan Oompie. Die padstal is stil as jy nie daar is nie. Dis so asof die kliente weet jys op awol daar op die plaas. Hulle mis die Oom met sy voorskoot. Maar, totdat jy beter voel, ry maar so met Jan Tuisbly se karretjie. Die rus is goed vir jou.

Storie deur Chris De Koker

- Advertisement -