Artikel & Fotos: Brian Cheyne

Ek het ‘n vriend wat altyd verwys na die George-area as Eden. Met die onlangse BMW 310 GS bekendstelling in Eden, het ons een van die passe gery op die 7-passe pad. Natuurlik was ek nuuskierig om te sien hoe lyk die ander ses passe. Omdat ek tans ‘n padfiets ry, het ek begin rondsnuffel vir mense by wie ek ‘n vrotpadfiets kon huur, sodat ek ‘n bietjie verder kon verken. My snuffel het my toe op die spoor gesit van Bert en Jovanka van African Karoo Adventures. Hulle nuwe maatskappy het ‘n ander aanslag op die motorfiets verhurings model. My versoek was eenvoudig: ek wil die ander ses passe gaan ry. Ek wil ook by die Motorcycle room in Knysna stop, en dan wil ek in die Karoo gaan slaap. Ek het ‘n datum gekies, en die res van die beplanning aan hulle oorgelaat.

Met my aankoms op George lughawe, kom laai Bert en Jovanka my op. Bert is die rustigheid vanself. Ek sien sommer ek sal ‘n pad saam met hierdie mense kan stap. Hulle werkswinkel is in Mosselbaai en daar sien ek die motorfiets wat my vir die volgende drie dae sal dra: ‘n splinternuwe Honda XR190CT. Ek ontmoet toe ook die vroulike ryer wat by ons gaan aansluit. Ons raak aan die gesels oor die keuse van fiets. Ons Suid-Afrikaners wil mos altyd die grootste, duurste en swaarste motorfiets hê. Ek sou oor die volgende drie dae uitvind dat hierdie klein fietsie die ideale keuse is vir die grondpaaie in en om George. Na aandete staan ons soos baanbrekers van weleer gebukkend oor kaarte en bespreek ons avontuur.

Dag 1 – Mosselbaai – Baviaans

Ons vertrek vroeg en sommer gou is ons op die eerste stukkie stofpad. Die klein Hondatjie verbaas my. My vooraf opgestelde idees dat jy ‘n kragtige monster nodig het om steil bulte met los klippe uit te klim, lê aan skerwe. In tweede rat hop die XR gemaklik oor selfs die rofste terrein. Jovanka ry agter ons aan met ondersteunings-voertuig met al ons bagasie. Rustig ry ons deur George, deur al 7 die passe tot in Knysna. Ons stop by die Motorcycle room, en die nostalgie oorval my. My grootste begeerte as ‘n 16 jarige laaitie staan daar: die Yamaha RZ 50. Nog met sy oorspronklike bande en ketting. Ek en die eienaar, Colin, raak aan die klets en ons deel ons passie oor motorfietse.

Ons kies daarna koers na Kom-se-pad, en van daar oor die Prins Alfred pas. Die mis is oorweldigend en die paaie glad, maar die dapper klein XR stotter nie een keer nie. Na Uniondale, ry ons ‘n stukkie teer tot by die afdraai na Baviaanskloof. In ‘n plaashuis, nie ver van die hoofpad af nie, span ons uit vir die nag.

Die aand braai Bert vir ons, en ek kan net rustig ontspan en my verkyk aan die sterre wat hier soveel meer blink as in Gauteng.

Dag 2 – Baviaans in en uit

Na ‘n stewige ontbyt besluit ons om vandag nie so ver te ry soos ons aanvanklik beplan het nie, want die roete raak tegnies en ons is hier om te ontspan en te rus. Dit is nog ‘n voordeel van so toer: jy kan hom aanpas soos jy voel die dag. Bert laat my los op die Baviaans pad, terwyl hy rustig saam met die minder ervare ryer ry. Ek geniet die ligte fietsie terdeë en begin wonder hoekom mense glo dat net yslike swaar storiefietse hierdie terrein kan baasraak. Die padoppervlak laat jou in elk geval nie toe om ‘n groot spoed te handhaaf nie. Die XR ry rustig en sekuur tussen 60km/h en 80km/h, en hier en daar wikkel hy deur ‘n sand kol, Ek onthou my rit in Gamkaskloof in op my 200kg + motorfiets. Ek onthou die knope in my skouers en pyn tussen my blaaie. Met die XR was daar nie sprake van pyn nie. Deur die Nuwekloofpas, verby Geraaskrans tot by Uitspan. Daar eet ons ‘n ietsie en gaan stap in die kloof, voor ons begin terugkronkel. Ek weet ons het nie eers die puntjie van Baviaans aangeraak nie, maar met asemrowende natuurtonele om elke draai was ek alreeds sensories oorbelaai. Daardie aand breek daar ‘n storm los en die klank van reën op ‘n sinkdak tower soos altyd nostalgie by my op.

Dag 3 – Baviaans – Mosselbaai

Vandag was ‘n kort entjie terug Uniondale toe, al langs die Kammannassie pad, deur Paardepoort en oor die Montagu pas.

Met my siel se tenkie vol gaan sit ek op Hartenbos se strand en begin wonder hoekom mense soveel geld spandeer aan ‘n avotuurfiets wat hulle een keer in twee jaar na regte aanwend. Huur eerder een as jy wil stof opskop, en kry ‘n sinvolle motorfiets vir jou daaglikse pendel.

Alhoewel die pryse van verhuring in Suid-Afrika hoog klink, is die tariewe billik vir die diens wat jy kry. Die dagtarief sluit jou fiets, brandstof en jou gids in. Op hulle oornag toere is die ondersteuningsvoertuig ook ingesluit.

AKA se hele uitgangspunt is om meer mense na hierdie pragparadys te lok, op fietse wat by ‘n groter mark gaan aanklank vind. Die hardebaard stofryers sal die XR 190 dalk te lig vind, maar dit is nie sy mark nie. Miskien kyk jy al lank na hierdie leefstyl, maar jy en jou wederhelf kan nie heeltemal saamstem oor die motorfiets koop nie. Miskien het jy al hard neergekom met ‘n groot storiefiets, en nou wil jy net weer jou vertroue terugkry. Wat ookal die rede is hoekom jy nie ‘n motorfiets besit nie, moet dit jou nie verhoed om jou eie avotuur te beplan nie. As jy ‘n lisensie
het, kan jy gerus vir Bert of Jovanka skakel en jou toer aanmekaar sit. Hulle is baie aanpasbaar en jy kan self besluit hoeveel jy self wil beplan, en hoeveel jy aan hulle wil oorlaat.

Die drie dae was vir my ‘n openbaring. Om te huur maak soveel sin. Jy het nie die uitgawe van die fiets nie. Jy hoef nie eers klere aan te skaf nie, AKA kan dit ook vir jou reël. Die volg-voertuig bring gemoedsrus, en as jy voel ‘n deel raak te tegnies kan hulle selfs jou fiets op ‘n sleepwa sit, of dat jy die voertuig ry. Ons het die keuse gehad dat AKA vir ons aandete maak, of jy kan kies om te gaan uiteet. Alles is opsies wat jy kan uitoefen. Ek gaan beslis weer van hulle dienste gebruik maak, want daar is nog baie dele wat onverken lê, en die twee se entoesiasme is aansteeklik!

Oorspronklike artikel was in Ultimate Lifestyle Ed.5

- Advertisement -